n internasionale jaar van gebed vir Marokkos
| week 19 |
EkonomieDie Marokkaanse ekonomie maak al vir eeue lank staat op die landbou. Omtrent die helfte van die Marokkaanse bevolking is by landbou betrokke. ‘n Dekade van droogte het tot gevolg gehad dat die land afhanklik is van ingevoerde landbouprodukte. Toerisme speel ‘n groot rol in die ekonomiese groei van Marokko en is die belangrikste bron van inkomste vir Marokko. Marokko is jaarliks ‘n aantrekking vir miljoene toeriste. Die toeriste kom hoofsaaklik van Europa om die skoonheid, geskiedenis, kosse, klimaat en kultuur te geniet, wat op sy beurt weer plaaslike werksgeleenthede in die vorm van dienste, kunshandwerke en klerasie verskaf.Alhoewel Marokko ryk is aan natuurlike hulpbronne (grootste uitvoerder van fosfaat in die wereld), is hierdie bronne onderbenut. Olie en natuurlike gasse is onlangs ontdek en daar word gehoop dat hierdie onderbenutte bronne die inkomste van die land sal aanvul. Werkloosheid is hoog en baie mense word onderbetaal. Die gevolg hiervan is klein lone wat skaars voldoende inkomste inbring om te kan oorleef. Meer as die helfte van die Marokkane onder die ouderdom van 25 jaar is werkloos. Hierdie syfers gaan toeneem indien die ekonomie nie drasties verbeter nie. Volgens statistiek vrygestel deur die Marokkaanse regering in die laat 1990’s, leef ongeveer tien miljoen Marokkane op die ekwivalent van R12 of selfs minder per dag. Dit is dus nie ‘n verassing dat die swak ekonomie die stedelike kerk negatief beinvloed nie. Sommiges loop selfs kilometers na byeenkomste omdat hulle nie die openbare vervoer kan bekostig nie. Juis om die rede kan bejaardes en gebreklikes nie altyd die byeenkomste bywoon nie. Baie van die gelowiges is jong enkelinge wat weens die werksskaarste nie kan trou en ‘n Christelike familie kan begin nie. “Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.” Efesiers 2:10 “By God is wysheid en krag, by Hom is raad en insig.” Job 12:13
|

