n internasionale jaar van gebed vir Marokkos
| week 41 |
VervolgingDie tafel is vir ete gedek, maar vir Amos is daar nie ’n bord gedek nie. Vandat Amos openlik erken het dat hy in Christus glo, wil sy pa nie toelaat dat hy saam met die gesin eet nie. By sy werk is Amos vlytig en met die geld wat hy verdien, koop hy dinge wat die gesin nodig het. As die pa dan vra: ”Waar kom dit vandaan?” sê die ma stilweg dat Amos dit vir hulle gekoop het. Sy stem ook nie saam met haar seun se nuwe geloof nie, maar sy kan sien dat hy sy bes probeer om sy ouers te eer en te help sorg vir die jonger boeties en sussies.’n Meisie wat gelowig geword het, is onlangs by haar tante, vir wie sy baie lief is, die huis belet. Hulle het vir haar gesê hulle is Moslems, nie Christene nie, en sy is nie meer daar welkom nie. ’n Jong man wat kort gelede tot bekering gekom het, bly nou in die strate omdat sy pa hom geslaan en uit die huis gesmyt het. ‘n Ander meisie is in die middel van die nag by die huis uitgegooi toe sy vir haar gesin gesê het dat sy nou in Christus glo. Marokko word gewoonlik gereken onder die top tien lande wanneer dit by vervolging van Christene deur die regering kom. Maar in werklikheid is die ergste vervolging nie deur die polisie nie, maar deur gesinslede. Tog is dit meestal in die gesin dat ander gelei word om ook in Christus te glo. “Elkeen wat hom voor die mense openlik vir My uitspreek, vir hom sal Ek My ook openlik uitspreek voor my Vader wat in die hemel is. Maar hom wat My voor die mense verloën, sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemel is. Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard. Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ’n man en sy pa, en tussen ’n dogter en haar ma, tussen ’n skoondogter en haar skoonma; ja, ’n man se huismense sal sy vyande wees. Hy wat sy pa of ma liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie. Hy wat nie sy kruis dra en My volg nie, is nie werd om aan My te behoort nie.” Matteus 10: 32-39
|

