n internasionale jaar van gebed vir Marokkos
| week 44 |
Die BergbewonersAnders as in die meeste plekke is dit in Marokko so dat die laagste inkomstegroep van die bevolking in die hoogste dele van die land woon. Daar is vier groot bergreekse, naamlik die Rifberge, die Middel-Atlasberge, die Hoë Atlasberge en die Anti-Atlasberge. Deur die geslagte heen was dit die woonplek van die Berbers. Hulle woon in die pragtigste natuurskoon in skilderagtige dorpies met klein landerytjies op terasse teen die berghange. Maar die mooi omgewing kan nie die harde werklikheid van ’n moeilike bestaan wegsteek nie.Die meeste van hierdie dorpies is sonder elektriese krag, ‘n skoon watervoorraad of sanitasiegeriewe. Daar is oor die algemeen konstante agteruitgang by die bewoonde dele in die berge, omdat die mense byvoorbeeld bome afkap vir vuurmaakhout om te kook en vir verwarming. Baie van die bosse is nou reeds feitlik kaal gestroop ten spyte van die regering wat dit probeer ontmoedig. Dit lei daartoe dat reënwater vinniger afloop en gronderosie bevorder word. Daarby vrek vis ook in die strome wanneer modderige vloedwater van die berge af daar inloop. Dit het ook al gelei tot oorstromings waarin heelwat mense hulle lewens verloor het. Toegang tot hierdie dorpies in die berge hang van die begaanbaarheid van paaie af. Daar is gedurig versoeke van hulle kant vir die verbetering van paaie. Baie van die bergbewoners is dankbaar as hulle ’n pakdonkie het vir die vervoer van hulle kosbare goed en hulle sou in elk geval nie ’n motor kon bekostig nie. Maar as daar nie behoorlike paaie is nie, kan hulle nie goed na ’n mark neem om te verkoop nie en dringende mediese dienste kan dan ook nie behoorlik gelewer word nie. “Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: ‘Jou God is Koning!’” Jesaja 52: 7 “Ja, al is die Here hoog verhewe, Hy gee om vir die nederige, maar Hy sien van ver af deur die hoogmoedige.” Psalm 138: 6
|

