n internasionale jaar van gebed vir Marokkos
| week 45 |
Rabat & SaleHierdie tweelingstede is geleë aan weerskante van die Bou Regregrivier waar dit in die see uitmond. Rabat was in die vroeër dae die setel van ’n sultan, terwyl Sale (uitgespreek Saa – lei) ’n vesting van seerowers was. Vandag kompeteer die stede nie meer teen mekaar nie, maar hulle vul mekaar eerder aan. Rabat is die administratiewe hoofstad van Marokko, terwyl 80% van die mense wat in die hoofstad werk, in Sale woon.Die bevolking van die twee stede is bykans twee miljoen. Hulle beweeg heen en weer oor die rivier met busse, motors en kragfietse sodat die twee plekke eintlik maar soos een stad voorkom. Die mense wat nog al die jare in Sale woon, gaan na Rabat om klas te loop by ’n universiteit, of om te werk in die regeringskantore of ambassades. Mense wat in die verwesterde Rabat woon gaan weer na Sale om vars groente en vrugte of handgemaakte artikels te koop, omdat dit daar aansienlik goedkoper is. In die laaste tiental jare heers daar in hierdie twee stede ’n atmosfeer van vrede en ’n mate van vryheid van opvatting wat, dié wat vir Christus wil volg, in staat gestel het om in hulle geloof te groei. Daar is vandag ’n aantal groepe van nuwe gelowiges wat hulself beheer en uitbrei. Hulle vergader in huise sonder om onnodig aandag te trek en beoefen die geloof wat mense vrymaak van skuld en vrees. Hulle dring nie hulle getuienis aan mense op nie, maar praat met ’n vaste oortuiging. Hulle gee al meer vir mekaar om en het die drang om die hele volk te bereik. Daar is dinge wat die groepe saam doen, soos om in die woonbuurte te loop en bid, om soms deur die nag te bid en die Here te loof of om saam ’n naweek van dissipelskapopleiding of leierskapopleiding aan te bied. Hulle werk ook saam om moderne media-hulpmiddels daar te stel. Die hand van die Here is duidelik op hulle terwyl hulle kreatief en sonder vrees vir Hom dien. Die gelowiges van Rabat en Sale nooi ook vir jou uit om hierdie tuin van geloof nat te maak met jou gebede sodat daar groei en baie vrug kan wees. Mag die dinge wat die Here in hierdie twee stede doen oral in Marokko vermenigvuldig word. “Die wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg. Hulle het hulle heelhartig toegelê op die leer van die apostels en die onderlinge verbondenheid, die gemeenskaplike maaltyd en die gebede.” Handelinge 2: 41-42
|

