n internasionale jaar van gebed vir Marokkos
| week 49 |
DeurbraakDit was omtrent in 1994 wat drie nuwe Christene bymekaar was in die huis van ’n buitelander. Daardie dag sê die gasheer toe vir hulle: “Julle is nou ’n gemeente”. Dit was vir hulle ’n vreemde gedagte. Hulle was mos ’n byeenkoms, ’n bybelstudiegroepie. Maar ’n gemeente? Dit was toe tyd om uit die Skrif te leer wat daar gesê word van ’n gemeente en van die kerk. In dieselfde tyd was daar ook gelowiges in ander plekke wat gereeld bymekaargekom het wat begin besef het dat hulle nou ’n gemeente is.In 1998 was daar ’n nuwe bekeerling wat ons Sayid sal noem. In sy stad was hy die enigste Christen. Hy het toe gevra of iemand van ’n ander stad, omtrent ’n uur daarvandaan, vir hom kon kom help om ’n dissipel te wees. So het Abid uit die buurdorp eenkeer ’n week begin kom om saam met Sayid uit die Bybel te lees en te bid. Later het hulle deur die strate van Sayid se stad begin loop om vir die mense te bid. In hierdie tyd het Abid begin besef dat die Here in daardie stad ook ’n gemeente wou vorm. ’n Paar maande later gee iemand hulle die adresse van ’n paar mense in die stad wat met ’n Bybel-korrespondensiekursus besig was. Sayid en Abid het hulle gaan besoek en party van hulle het die Redder aangeneem. So is nog ’n paar by die getal broers en susters bygevoeg. Maar waar sou hulle gereeld bymekaar kon kom? ’n Swart Christen uit ’n ander Afrika-land bied toe aan dat hulle in sy huis kon bymekaarkom. So is daar in Sayid se stad ’n gemeente gebore. Hulle het ’n nuwe vreugde gehad en was daarvan oortuig dat daar gou nog ’n gemeente in hulle stad sou ontstaan. Intussen het die Here ook ’n ander stad op Abid se hart gelê. Hy het elke week daar begin besoek aflê. Eers het hy net deur die strate geloop en bid, maar hy het in die geloof aangeneem dat daar in daardie stad ook binnekort ’n gemeente sou begin. Abid dink reeds aan ’n volgende plek en ook nog ander plekke waar die Here hom wil gebruik om ’n gemeente te vestig. Die aanvoorwerk en vestiging van nuwe gemeentetjies deur plaaslike Christene is een van die opwindendste en belangrikste ontwikkelinge in die koninkryk van God in Marokko. “Waar twee of drie in my Naam saam is, daar is Ek by hulle.” Matteus 18: 20
|

