n internasionale jaar van gebed vir Marokkos

week 51

’n Begrafnis

Vandag het ek weer ’n groep Marokkaanse mans teëgekom wat in ’n optog loop en ’n lyk op ’n draagbaar dra terwyl hulle sing-praat met hulle tipiese dreunsang.  Aangesien daar minder as ’n duisend Christengelowiges in ‘n bevolking van dertig miljoen in Marokko is, is dit heelwaarskynlik dat hierdie mens reeds sy oë in die verdoemenis oopgemaak het waar hy die ewigheid sal deurbring, weg van die een ware God.  Baie mense het verse uit die Koran gebid en gesing ter wille van hom.  Hulle glo dat hy geoordeel sal word volgens sy dade en vra dan vir Allah om hom genadig te wees.  Die man wat dood is, was ‘n toegewyde Moslem.  Hy het deurentyd verklaar dat daar geen ander god behalwe Allah is nie, en dat Mohammed sy boodskapper is.  Hy het getrou vyf maal per dag gebid en het aalmoese aan die armes gegee.  Hy het gedurende die tyd van Ramadan gevas en het selfs op die pelgrimsreis na Mekka gegaan.

Dan sal Allah mos vir hom genadig wees, of hoe?

Die mense op die begrafnis wonder of hy (en hulle self ook) in die hemel toegelaat sal word.  Sal sy goeie dade swaarder weeg as die slegtes?  Vir ’n Moslem is daar nie werklike sekerheid nie.  Dit word gesê dat die profeet Mohammed by Allah intree vir die wat gesterf het, maar dit is Allah alleen wat besluit of iemand die ewigheid in die hemel of die hel gaan deurbring.

By die begrafnis van ’n Moslem is daar weinig rede vir hoop.  Elke dag word daar in Marokko honderde Moslems begrawe, toegedraai in ‘’n stuk materiaal.  Die lyk word op sy sy in die graf geplaas met die gesig na Mekka toe. Die naaste familie weeklaag en smeek Allah om die dooie genadig te wees.  Sal iemand die noodkrete hoor?  Hoor jy dit?

“’n Mens is bestem om net een maal te sterf en daarna kom die oordeel.  So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem.  As Hy die tweede keer verskyn, kom Hy nie in verband met sonde nie, maar om verlossing te bring vir die wat Hom verwag.” Hebreërs 9: 27, 28

“Jesus het gesê: ‘Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.’” Johannes 14: 6

  • Bid dat die Here die mense van Marokko, wat treur oor iemand wat gesterf het, genadig sal wees en hulle sal laat roep na Seun voordat hulle ook die ewigheid ingaan sonder Christus.
  • Bid dat Marokkaanse Christene by die dood en begrafnis van ’n Christen ’n duidelike getuienis sal kan uitdra van absolute sekerheid wat die ewigheid betref.
  • Bid dat daar vir die Moslems van Marokko nuwe lewe en lig sal opgaan waar hulle tot nou toe in duisternis en geestelike dood is.
 


arise shine morocco