n internasionale jaar van gebed vir Marokkos

week 52

Verdwyn of Oorwin

Mense verwys gewoonlik na Noord-Afrika as die wêrelddeel waar die kerk verdwyn het.  Dit is omdat juis hier in die eerste eeue na Christus party van die sterkste gemeentes in die hele Christelike kerk was.  In daardie jare is party van die Christene in Noord-Afrika deur die Romeine doodgemaak vir hulle geloof en hulle geskiedenis is opgeteken en sal vir altyd bly leef.  Daar is ook die blywende invloed wat party groot kerkleiers uit Noord-Afrika op die kerk gehad het.  Onder hulle was daar Tertullianus, Cyprianus en Augustinus.

Daar is geskiedkundige bewyse van die bestaan van merkwaardige kerkgeboue in die Romeinse stede Tingis (vandag Tangiers), ook by Lixus (Larache) en Volubilis.  Aldrie hierdie ou stede is in die noorde van Marokko.  Daar is bewyse dat Christene so ver suid as die vallei van die Sousse gewoon het.  In die gebied wat vandag Marokko is, het die eerste marteldood van Christene in die derde eeu na Christus voorgekom.

Toe Islam hier op die toneel gekom het teen die einde van die sewende eeu, was dit ’n geweldige uitdaging vir die kerk.  Islam het met sy leerstellings, wat op wettiese gedrag gebaseer was, gekom.  Die mense van Noord-Afrika is aan propaganda, diskriminerende belasting en wapengeweld onderwerp.  Die mense het aan hierdie druk begin toegee en oor die loop van ’n paar eeue het die kerk verswak en uiteindelik verdwyn.  Onder die bevolking het daar geen spoor van die Christelike kerk oorgebly nie.

Mense wat die kerkgeskiedenis nagaan, het met die probleem, van hoe so ’n lewenskragtige gelowige gemeenskap totaal kon verdwyn, geworstel.  Die gevolgtrekking waaroor hulle uiteindelik saamgestem het, is dat die vroeë kerk in Noord-Afrika nie werklik inheems geword het nie.  Die meeste van die bykomstighede van die Romeinse kultuur is net so oorgeplant saam met die kerk.  So is die Skrif en ander Christelike boeke byvoorbeeld nie in die moedertaal van die verskillende groepe vertaal nie.  Die evangelisasie van die plaaslike bevolking en die groei van die kerk was nie hoog genoeg op die lys van prioriteite nie.

Oor die eeue daarna, tot die einde van die negentiende eeu toe die tyd van moderne sendingwerk aangebreek het, is daar geen aanduiding van ‘n Christelike kerk in Marokko nie.  In die eerste helfte van die twintigste eeu het groepies Christene op baie plekke ontstaan.  Maar nadat Marokko onafhanklikheid in 1956 verkry het, is daar beperkings geplaas wat die Christene verhinder het om uit te reik en hulle geloof in die openbaar te beoefen.  Die optrede van die polisie wat Christene lastig geval het, het daartoe gelei dat die getalle in hierdie groepe afgeneem het, en dat party opgehou het om te bestaan.  Dit is eers onlangs dat die kerk weer begin groei het en nou meer is as in die tyd voor onafhanklikheid.

Vandag is die kerk in Marokko besig om die Skrif te vertaal en om die Here te aanbid op’n manier wat aansluit by die mense se kultuur.  Dit kom veral in die liedere en musiek uit en die gelowiges is besig om uit te reik en nuwe groepe aan die gang te kry.  Dit is beslis aanduidings van ’n kerk wat groei en nie verdwyn nie.

“Vir’n boom is daar nog hoop; al is dit afgekap, kan dit weer uitloop en sy lote sal aanhou groei.” Job 14: 7

“Here, mag dié wat vir U liefhet wees soos die son wat in sy volle krag skyn.” Rigters 5: 31

  • Bid dat die kerk in Marokko sal groei in getalle, in geestelike rypheid en in eenheid.
  • Bid dat gemeentes vermenigvuldig sal word en dat daar leiers na vore sal kom met die gawes en nederigheid en salwing van die Gees wat nodig is.
  • Bid dat daar vir die Christene beskerming en vryheid sal wees sodat hulle sal kan bymekaarkom sonder om bang te wees vir vervolging.
 


arise shine morocco